Kanker

Liewe vader die lewe kruip nader
jy het ‘n engel wat oor jou kyk
jy is sterker as die dood se hande

sy is ‘n mens met haar vlerke wyd
ek ken jou goed jy is die een wat aanhou
sy staan by jou soos ‘n standbeeld vas

my held is gewond
en ek weet hy kan oorleef
maar dit is nie in my hande nie
dit voel onregverdig
maar wie's ek om dit te sê
dis genade wat ek hier wil hê

Ek kry nie woorde om te sê hoe ek voel nie
die trane in jou oë help my ook nie
ons huis is sterk hy is gebou vir oorlog
dis net omdat jy die fondament is

was ek net jonk en idealisties om te glo
dat als pas presies in patrone op ‘n oopgevoude bloudruk
realisties moet ek toegee dat ek self nog nooit daai lyne kon begryp nie
ek swyg maar deur die eindelose vraagtekens dit lyk nie asof enige iemand doen nie
ons sukkel met die plan laas jaar het my beste vriend van ‘n dak af geval in japan
hy het sy nek gebreek en doodgegaan in ‘n verre vreemde land en ek voel ons lewens is maar net
vingers half vol sand maar in die nagte as dit stil is hoor ek soms die stem van God
en in Sy aangesig sien ek my eie hart en hoe dit vrot maar ek voel ook sonder twyfel
onmeetbare liefde van ‘n vader en dis dan juis fokken dan wat weer glo in genade.