Die Eerste Seerkry

Die meisie met die puisie sit verwese in die hoek
Sy skryf gewonde woorde in haar Croxley klaswerkboek
O die droefheid sê sy saggies, die droefheid het my beet
Nou wals ek met die weemoed, want jy het my vergeet

Vergete is die maanligaand, die pawiljoen, die eerste soen
Die reuk van varsgesnyde gras toe ek en jy nog ons twee was
O die droefheid, sê sy saggies, die droefheid het my beet
Nou wals ek met die weemoed, want jy het my vergeet.

Niks kan die eerste seerkry keer nie
Geen muur, geen skanse of verweer nie
Ons almal moet die paadjie loop
Die hart word eers met vuur gedoop
Die hart word eers in vuur gedoop

En meisietjies sal grootword en seuntjies sal ook leer
Die dag sal kom dat hul alleen die lewe moet trotseer
Gee hul lampe vir hul voete en ’n kompas vir die pad
Maar berus dat hul in elk geval hul eie koers sal vat

En as my bene stram word en ek stadiger moet loop
En die are op my hande soos verliefde wurms knoop
As alles wat eens helder was, verbleek na grys en grou
Laat my tog, soos kindertyd, my verwondering behou